Seerowers: Boetie gaan Somalië toe…

In Puntland, in die verre noord-ooste van Somalië, voer ’n groep Suid-Afrikaanse huursoldate ’n amper vergeefse stryd teen seerowers, In die annale van moderne seerowery is die verhaal van die Panamese vragskip die Iceberg 1 genoeg om enige seevaarder nagmerries te gee.

Dié skip van 4 500 ton is in Maart 2010 net buite Aden aan die kus van ­Jemen gekaap met 25 bemanningslede aan boord. Nadat die eienaars geweier het om die losprys van $10 miljoen te betaal het die langste seerower-drama in moderne geskiedenis ontvou.

Ná verskriklike ontberinge is die 22 oorlewende bemanningslede eers in Desember 2012 – byna drie jaar later – ontset deur wat The Sunday Telegraph beskryf het as ’n “ramshackle Somalia anti-piracy force”.

Hierdie “ramshackle” mag, sou ek later uitvind, het bestaan uit ’n groep Suid-Afrikaanse huursoldate, die meeste van hulle oud-Recce’s, almal lede van die Puntlandse Maritieme Polisiemag (PMPF).

Die verhaal van die PMPF – en Suid-Afrikaanse huursoldate se betrokkenheid hierby – illustreer nie net hoe ongelooflik kompleks die konflik in Somalië is nie, maar ook hoe onontbeerlik die rol van huursoldate geword het om konflikte wêreldwyd te besleg en te bekamp.

Puntland is ’n semi-outonome staat, sowat die helfte so groot soos Zimbabwe, wat meer as ’n dekade gelede weggebreek het van Mogadisjoe omdat hulle Somalië as onregeerbaar beskou het.

Puntland se outonomiteit word deur geen ander staat internasionaal erken nie, maar tog speel hulle ’n onontbeerlike (hoewel erg teenstrydige) rol om seerowery in die streek te bekamp.

Die ontsetting van die Iceberg 1 is ’n goeie voorbeeld. Nadat die skip se eienaars geweier het om die losprys te betaal, is die bemanning aan hul eie lot oorgelaat en het hulle die verskriklikste ontberinge beleef. In een stadium het die seerowers die ore van die hoofingenieur afgesny “omdat hy nie wou luister nie”. Daarna het hulle hom vermink deur albei sy bene te breek.

Destyds was Roelf van Heerden, ’n senior offisier in die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) met baie jare diens in die spesiale magte (Recce’s), aan die hoof van die PMPF – ’n anti-seerower-mag wat bestaan het uit ongeveer 65 man, die meeste van hulle Suid-Afrikaners.

Suid-Afrikaanse huursoldate op ­patrollie langs die Somaliese kus.­ | Foto’s: Al Venter

Deur sy informante-netwerk het hy gehoor van die verslegtende omstandighede aan boord die Iceberg, wat in daardie stadium gestrand was naby Garacad, ’n klein kusdorpie aan die ooskus van Somalië.

Nadat Van Heerden sy politieke base in die Puntland-regering oortuig het ’n reddingsoperasie is moontlik, is die gyselaars bevry ná gevegte wat 13 dae geduur het. Die seerowers is uiteindelik uitgerook deur die hele skip in ’n bombardement aan die brand te steek.

Suid-Afrikaanse betrokkenheid in die bekamping van seerowery in Somalië strek egter selfs verder terug. En hoewel daar kritiek daarteen uitgespreek word in die Afrika-unie (AU), spreek die resultate boekdele. Daar is nou baie minder aanvalle op skepe deur Somaliese seerowers as twee jaar gelede.

Een van die 40 jaar oue Alouette III-helikopters.

Suid-Afrikaanse betrokkenheid is oorspronklik gelei deur Lafras Luitingh, ’n voormalige Recce-majoor en stigterslid van Executive Outcomes.

Luitingh en die Amerikaanse miljoenêr Erik Prince, stigter van die veiligheidsmaatskappy Blackwater, het aanvanklik saamgewerk om ’n anti-seerower-mag langs die Rooi See in die Horing van Afrika op die been te bring.

Terselfdertyd is die PMPF se lugvleuel by Bosaso in die noorde van Somalië gestig. Die lugvleuel is aangevoer deur Van Heerden en het bestaan uit agt vlieëniers, grondpersoneellede en ’n 40 jaar oue Alouette III-helikopter wat van ’n Suid-Afrikaanse kommersiële operateur gekoop is.

Een van die vlieëniers was Arthur ­Walker, nog ’n Suid-Afrikaanse Bosoorlogveteraan en die enigste man wat twee Honoris Crux-medaljes (goud) vir dapperheid ontvang het.

Die Price/Luitingh/Van Heerden-driemanskap in Puntland het amper drie jaar gehou voordat die AU in sy wysheid besluit het die gebied sal beter daaraan toe wees sonder huursoldate.

’n Nuwe entiteit uit die Verenigde Arabiese Emirate het daarna oorgeneem om die gebied teen seerowers te beskerm. Die Arabiere het egter gou die waarde van die Suid-Afrikaners besef en het baie gou sowat ’n dosyn van die oorspronklike span weer gehuur.

Die Alouette het intussen ophou vlieg as gevolg van ’n ernstige gebrek aan onderdele. Verkenningsvlugte word nou onderneem deur Suid-Afrikaanse vlieëniers agter die stuur van drie splinternuwe Amerikaanse Ayres Turbo Thrush-besproeiingsvliegtuie bewapen met masjiengewere en ondervlerkse lug-tot-grond-missiele. Die vliegtuie, bekend as Vigilantes, is oorspronklik ontwikkel om dwelmplantasies in Colombia met insekdoder te spuit en is beswaarlik geskik om terroriste te beveg in een van die mees plofbare streke in die wêreld.

Benewens die seerowers is Al-Sjabaab-terroriste ook baie aktief in die streek. Die vlieëniers wat in Bosaso werk, is onlangs deur Al-Sjabaab in ’n selfmoordaanval geteiken. Verskeie mense is dood in die ontploffing wat ’n area so groot soos ’n halwe rugbyveld platgevee het, maar die Suid-Afrikaanse vlieënier wat in die kajuit van die gewapende voertuig was, het oorleef.

Dit is juis een van die teenstrydighede van die stryd teen terreur in dié deel van die wêreld.

Die Puntlandse regering weet dikwels presies waar die terroriste (soos Al-Sjabaab of Al-Kaïda) skuilhou, maar die politieke leiers sal sowel hul teenwoordigheid as die potensiële gevaar ignoreer. Sommige noem dit die “kop in die sand”-benadering. Die argument is blykbaar: Wie weet, miskien verdwyn die gevaar môre.

Toe Arthur Walker verlede jaar in Puntland was om Alouettes te vlieg, was hy en almal op die basis daarvan bewus dat daar ’n Al-Sjabaab-kamp slegs 15 km van die Bosaso-lugmagbasis was.

Walker sê hy het verskeie kere toestemming gevra om ’n aanval te loods, en elke keer is hy na die president verwys. Die antwoord wat teruggekom het, was baie spesifiek: Moet niks doen nie!

Blykbaar het niks sedertdien verander nie. Die kamp is nou goed ingegrawe in die voetheuwels van die Golis-berge van waar hulle gereeld skiet op die PMPF-helikopters.

Ek het onlangs ’n voorlegging van ’n betroubare Somaliese intelligensiebron in Brittanje bygewoon wat vertel het die noordelike deel van Somalië het nou die fokus geword van ’n grootskaalse Al-Sjabaab-opstand. Hy wys ook daarop dat Al-Sjabaab noue bande met Al-Kaïda het.

Die insurgente het reeds ’n goeie vastrapplek in Puntland. Omdat die streek naby Jemen lê, gebruik hulle klein motorbote om militêre hardeware oor die smal stukkie see tussen Jemen en Somalië te smokkel.

Van hier neem hulle die wapens verder suid waar hul kamerade in Al-Sjabaab gewikkel is in gevegte met AU-magte in en rondom Mogadisjoe. Bykans al die selfmoordbomme wat onlangs in Mogadisjoe ontplof het, het hul oorsprong in Puntland gehad. Ook die bomme wat verlede jaar gebruik is in die aanval op ’n winkelsentrum in Nairobi waarin 72 mense dood en 200 gewond is, het uit Puntland gekom.

Reusagtige oliereserwes wat onlangs in die woestynstreke suid van Bosaso ontdek is, dra verder by tot onstabiliteit in die streek.

Toe Puntland se nuutverkose president Abdiweli Mohamed Ali Gas in Februarie die sentrale regering in Mogadisjoe ontvang het, was verskille oor olie en seerowery hoog op die agenda.

Puntland is sedert 2005 berug as die middelpunt van die seerowery-probleem in die Golf van Aden. Die saak is nou al meer as ’n dekade lank hoog op die internasionale agenda, met verskeie lande – onder meer Amerika, Indië, Rusland, Frankryk, Brittanje en China – wat al oorlogskepe in die gebied ontplooi het.

Die voertuig waarin die Suid-Afrikaanse vlieënier Neall Ellis beseer is toe dit deur ’n selfmoordbomaanvaller aangeval is.

Daar is geen twyfel dat skepe wat hier gekaap word ’n massiewe bron van inkomste vir Ali Gas se regering is nie.

Dit word goed geïllustreer deur die feit dat die eienaars van twee Europese vragskepe verlede jaar ’n losprys van $12 miljoen betaal het om hul skepe terug te kry. ’n Seerower-bron na aan die PMPF vertel dat nadat die geld betaal is, die hele Puntland tot stilstand gekom het terwyl die buit verdeel is. Elke Puntland-minister, sekuriteitsoffisier en polisiehoof – van die president af ondertoe – het hul deel gekry, word beweer.

Dit lei daarom ook tot beskuldigings dat die owerhede anderpad kyk en geen wil het om die probleem op te los nie.

Meer onheilspellend nog: Die mense van Puntland beskou seerowery as sosiaal aanvaarbaar. Die winsgewendheid beteken dat talle vissermanne, oud-milisie­lede en opgeleide tegniese mense wat die seerowerbote en hul moeder­skepe in stand hou, betrokke is.

Daar is ook baie mense in Somalië wat aanvalle op internasionale skepe sal verdedig. Hulle argumenteer dit is ’n regverdige reaksie teen onwettige internasionale visstropery in hul waters en die onwettige storting van giftige afval aan die lang en ongepolisieerde kuslyn.

Dit is dus alles deel van die teenstrydige situasie waarin die Suid-Afrikaanse huursoldate in Puntland hulle bevind: Dat die Puntlandse Maritieme Polisiemag – wat ’n redelik doeltreffende liggaam is om seerowery te bekamp – besig is om teen die regering te werk wat hul salarisse betaal!

Al Venter is ’n veteraan-oorlogverslaggewer. Sy jongste boek, Mercenaries: Putting the World to Rights with Hired Guns, verskyn binnekort.


CLICK HERE to go to the Original Publication